Deursoek hierdie blog

Woensdag 02 Augustus 2023

liefdes-wens

 





liefdes-wens

 

onthou jy my lyf

wat in liefde teen jou vlei

as ons in eenheid saamsmelt

 

ek voel jou asem

as jy fluister in my oor

sagvoet saam in ons liefde

 

©MarleneErasmus

30/07/2023


*Digsoort: Sedoka

Sinéad O’Connor se stem raak stil.


Sinéad O’Connor se stem raak stil.


Woensdag het die familie van Sinéad aangekondig: “Dit is met groot hartseer dat ons die dood van ons geliefde Sinéad aankondig. Sy was 56 jaar oud. Hulle hartseer was duidelik hoorbaar toe hulle privaatheid versoek het.

Die Ierse popsensasie het haar gewildheid verkry in die 1990’s met die lied: “Nothing Compares 2 U”, oorspronklik geskryf deur Prince. Sinéad was veral bekend vir haar unieke stem, maar ook vir haar rebelse houding. Sy het haar eie mening gehad oor godsdiens, menseregte en geestesgesondheidkwessies, en het nie geskroom om haar stem te laat hoor nie.

Kinderjare

Sy word op 8 Desember 1966 gebore as Sinéad Marie Bernadette O'Connor in Dublin, Ierland.

Haar kinderjare was nie maklik nie en het ‘n groot rol gespeel op haar persoonlikheid as volwassene. Dit het ook haar musiekstyl bepaal in haar loopbaan as kunstenaar. Haar ouers is geskei en sy het saam met haar broers en susters by haar ma, Marie gewoon. Sy en haar ma het ‘n stormagtige verhouding gehad en sy is dikwels emosioneel en fisiek mishandel. Dit het daartoe gelei dat sy haar onttrek het. Sy het uiters onveilig gevoel in haar gesinsomgewing.

Op die jong ouderdom van 15-jaar het sy na ‘n groot geveg met haar ma besluit om weg te loop. Sy was vir ‘n tyd op straat, maar haar winkeldiefstal gewoontes het daartoe gelei dat sy vir 18 maande in ‘n inrigting beland het. Die inrigting het bekend gestaan as die Grianán-opleidingsentrum in Drumcondra.

Begin van musiek-loopbaan

Sy het haarself in musiek gevind toe sy in haar tienerjare begin sing het. Haar heel eerste album , “The Lion and the Cobra” word in 1987 vrygestel. Sy neem die verhoognaam van Magda Davitt aan. In 1990 reik sy haar tweede ateljee-album, “I Do Not Want What I Haven’t Got” uit. Die hoof-snit, “Nothing Compares 2 U” wat geskryf is deur die kunstenaar Prince, word in 1990 deur die Billboard Music Awards aangewys as die nommer een wêreld-enkelsnit. Haar opname van “Nothing Compares 2 U” word meer as 400 miljoen kere gekyk op YouTube.

Latere loopbaan

In haar leeftyd reik Sinéad tien ateljee-albums uit. Twee van haar albums, 1992 se “Am I Not Your Girl?” en 1994 se “Universal Mother” bereik goue status in Brittanje. In 2000 het haar album, “Faith and Courage” goue status in Australië gekry, en in 2005 het, “Throw Down Your Arms” goud behaal in Ierland. Sy verskaf ook talle liedjies vir films en het ook saam met ander kunstenaars opgetree vir liefdadigheidsfondsinsamelings-konserte. Haar 2021-memoir, “Rememberings” was ‘n topverkoper.

Die omstrede kant

Sy is die kunstenaar wat nie net vir haar goue stem onthou sal word nie. Sy kon haar stem laat hoor om haar opinies en oortuigings aan die wêreld bekend te maak. Haar uitgesprokenheid het dikwels tot gelei tot baie kontroversie.

In Oktober 1992 tydens “Saturday Night Live”, skeur sy ‘n foto van pous Johannes Paulus op. Dit dien as bewys van haar protes teen onregte wat gepleeg word teen kinders in die Katolieke kringe. Met die aksie sing sy Bob Marley se lied, “War”.

Skaars twee weke na die episode, met die 30ste herdenkingkonsert vir Dylan, was die woede nog sigbaar toe sy wee die lied “War” acapella sing! Sy het in trane uitgebars en is deur Kris Kristofferson van die verhoog af gelei.

Sinéad en geloof

Sy staan bekend vir haar komplekse spirituele reis. In haar jonger jare is sy grootgemaak in ‘n Katolieke gesin. Sy het self op ‘n stadium oorweeg om ‘n non te word. Die Katolieke agtergrond het ‘n groot invloed gehad op sommige van haar vroeëre musiek.

In 1999 word sy as ‘n priester ingelyf in die Latynse Tridentynse Kerk. Hierdie kerk is deel van die Rooms-Katolieke Kerk wat die liturgie en die tradisies volg soos dit voor die Tweede Vatikaanse Konsilie was. Hulle gebruik die "Tridentynse Mis," wat ook bekend staan as die "Tradisionele Latynse Mis.”

Haar persoonlike lewe

Sinéad se lewe is gekenmerk deur onstuimige kenmerke. Daar was die moeilike verhoudings, asook die gesondheidsprobleme waarmee sy geworstel het.

Sinéad was vier keer getroue en uit die huwelike is daar vier kinders gebore: Jake in 1987, Roisin in 1995, Shane in 2004 en laastens Yeshua in 2006. Onder haar verhoudings duik daar name op van Peter Gabriel en John Waters.

Sy het aan ‘n bipolêre versteuring gelei en is in 2003 gediagnoseer met fibromialgia. Dit is ‘n chroniese toestand wat baie pyn veroorsaak.

In 2022 pleeg haar seun, Shane selfmoord op die brose ouderdom van 17 jaar. Sy het haar seun se dood baie moeilik gevind.

Deur haar lewe het sy verskeie selfmoord pogings gehad , waarvan die laaste een in 2023 haar einde beteken het. Sy was by haar huis in Ierland tydens haar afsterwe.

Nalatenskap

Sinéad sal onthou word. Sy was die ikoon wat man kon staan, en sy het derduisende mense ontroer met haar porseleinstem.

Sinéad, ek sluit af met Prince se woorde: “Nothing compares to YOU!”


©MarleneErasmus

30/07/2023

(832 woorde)



Sondag 30 Julie 2023

Toeka tot nou


 


toeka tot nou


so op Sondag, dink ek met groot heimwee

na my plaaslewe terug; nostalgie so broos

waar trekkers stil staan in die son se gloed

na ʼn dag se oes, om vele monde te voed

wiele van die Massey Ferguson sing net soos

musiek, as die rooi masjien oor die aarde vee


in die veld waar die windjie saggies fluister

waar die son opkom oor die kim – so blou

vul die plaasgeluide my siel, dit voel so goed

as ek aan die einde terugkyk in die aandgloed

dan voel ek een met die lewe, vars soos nou

as die trekker se wiele sing, moet jy luister


trekkers, oud en nuut dans oor die land

met die plaashuis en sy groot kaggelvuur

om jou te verwelkom na die dag se arbeid

waar trekkers knarsend staan voor afskeid

as nuwe tegnologie sake in ander rigting stuur

in harde grond word die toekoms geplant


©MarleneErasmus

30/07/2023

oulap se rooi

 oulap se rooi 


in die rooi geur van die môre se eerste groet

verloor ek my hart in die mooiste gloed


die aandster flikker in rooi fonkeling so hoog

en ek proe die stilte sag skitter aan hemelboog


alles om my smelt saam in ‘n rooi simfonie

as ek rustig asemskep in die aardse harmonie


©MarleneErasmus

30/07/2023





Woensdag 26 Julie 2023

voor ek gaan rus



voor ek gaan rus

gun my die voorreg van laaste wens
voor ek dalk eendag saggies heengaan

mag ek die vreugde smaak van ouer word
sonder te veel pyne of skete om my oor te kwel

mag ek ʼn glimlag sit op ʼn ander se gesig
met my uitkyk van die laaste bestemming

mag ek die eer beleef om met dankbaarheid
oor my klankspoor wat ek sal agterlaat

mag ek met dansende vingers streel oor
die klawers van my lewensmelodieë

Ag Heer, mag my lewe se betekenis straal
In die ewigheid as U my eendag kom haal 

©MarleneErasmus
26/07/2023



Neologisme:
Klankspoor – klank en spoor: die impak van die musiek en klank wat iemand agterlaat, 'n blywende en betekenisvolle herinnering aan die bydrae van daardie persoon in die wêreld.
Eufemisme: saggies heengaan – sterf


 

Maandag 24 Julie 2023

Whisky-kat

 


        Whisky-kat


        in die sagte skemer van ʼn hartseer nag

        verskyn jou skugter, stil silhoeët, troetelsag

        jy vlei jou teen my aan, verstaan my seer


        sielsmaat sien tot binne hart se wonde

        sien selfs tot die diepte van my sonde

        so skep jy ʼn band wat ons bind in liefde


        ek kom vier jou, my kat, met jou hart oop

        vir my is jy nie net troeteldier, maar gee hoop

        as jy my kom vertroos met jou teenwoordigheid


        ©MarleneErasmus

        24/07/2023



ʼn kind se hartseer


ʼn kind se hartseer


in die stilte van ʼn kleine kindjie se hart

vergaan vreugde vinnig in stilte, huilend

as trane soos verlore vriende oor wange rol

probeer hulle om nog dapper te glimlag


die wind fluister saggies in kindjie se oor

sweef met drome, nie ingeperk deur grense

verdryf die donker wolke hul kommer snel

as hartseer oor hul lippe stort in snikke


gou troos die sagte fluistering van liefde 

stry die stryd teen die gevoel van hartseer

laat ons hande en harte ondersteuning bied

om ʼn kindjie se hartseer omarmend te troos


©MarleneErasmus

24/07/24


 

liefdes-wens

  liefdes-wens   onthou jy my lyf wat in liefde teen jou vlei as ons in eenheid saamsmelt   ek voel jou asem as jy fluister in...